Friday, March 2, 2012

Ons nuutste doen en late hier by YWAM


Sewe-en- twintig nasionaliteite, vyf-en-tagtig studente en honderd-en-twintig personeel. Dit is wie almal die begin van die termyn bymekaarkom by ons eerste gesamentlike byeenkoms, en in ons harte is 'n verwagting dat baie mense se lewens deur die liefde van Jesus verander gaan word in hierdie jaar wat voorlê. Ek kan werklik sê dat dit dan ook juis die geval is: nou dat ons al 'n paar maande gevorder het met hierdie jaar, is dit vir my so bemoedigend om te sien hoe oop die studente is om te leer en alles te ontvang wat Jesus vir hulle het vir hierdie seisoen van hulle lewens. Ek kan getuig dat ons sien hoedat die krag van die Heilige Gees in mense werk en hulle kom genees en bedien met Vader God se liefde en hoedat mense se lewens weekliks verander word soos wat die Heilige Gees openbaring bring.

Nog 'n hoogtepunt van hierdie termyn is die “Marriage Week” wat deur ons Familie bediening gereël is. Dit is 'n internasionale byeenkoms wat reeds in 25 ander lande gehou word , maar wat hierdie jaar vir die eerste keer in Suid- Afrika aangebied is. Die byeenkoms is ge-open deur Worcester se Burgermeester en sy vrou hier in ons saal op die YWAM Basis. Ons het ook die geleentheid gehad om vir hulle te bid.

Behalwe die skole wat hierdie termyn aangebied word, het ons ook 'n drie weke lange “Troubadoer Arts Seminar” aangebied met studente wat van so ver as Namibië gekom het om hulself daardeur te kom toerus. Rozelle het ook die drie weke kurses bygewoon en dit baie geniet. Die hoogtepunt van die seminaar was die laaste Saterdag toe al die studente saam op 'n uitreik Somersetstrand toe gegaan het en op die strand die danse en dramas gedoen het en so die evangelie verkondig het.

Ons Dissipelskap uitreikspanne wat teruggekom het van onder adere Brazil en Malawi getuig hoedat hulle die krag van die Here sien werk het. By 'n geleentheid in Malawi het hulle die Jesus film gewys en toe dit kom by die deel van die kruisiging het hulle die film gestop en mense genooi wat wil vorentoe kom vir gebed. Een van die gevalle was 'n man wat blind was wat vorentoe gekom het en toe hulle vir hom bid het sy oë oopgegaan en kon hy weer sien. Prys Jesus vir die krag van Sy naam!

Die kinders is ook nou al weer goed aan die gang met al hulle skool aktiwiteite. Altwee geniet hulle dansklasse en ons is veral dankbaar dat ons vir Chané kon laat inskakel by “Vibrant”- 'n christen dansskool in die dorp.

Ons is dankbaar vir jou gebed en ondersteuning. Ons is opgewonde oor wat Vader doen hier by YWAM Worcester en ons prys die Here vir jou aandeel in ons lewens wat die werk hier help moontlik maak.

Baie liefdegroete Arno , Mariska en kinders. 





























a. Arno word verras met 'n sjokeladekoek tydens 'n werksvergadering op sy   verjaarsdag
b. Gebed vir die Burgermeester met die opening van die Huweliksweek
c. "Compassion DTS" studente word uitgestuur na hulle skool.
d. Die drie vrouens in my lewe by 'n uitstappie in Kirstenbosch
e. Mansstudente direk na hulle terugkeer van hul uitreik in Brazil.
f. Pretfoto op die uitstalbord van die huidige DTS Studente.