Friday, September 27, 2013

NUUS VAN DIE PIENAARS Oktober 2013 (Ons Oktober nuusbrief)


Groete hier uit Worcester. Daar het soveel gebeur hierdie laaste paar maande en ons wil graag met julle van die hoogtepunte deel.

Hier by YWAM staan ons aan die begin van 'n nuwe termyn, met studente wat arriveer van so ver as Congo Brazaville, maar ons het ook sopas ons “Awakening DTS” studente uitgestuur op hulle praktiese uitreikfase en weereens was die vreugde groot soos wat ons Hemels Vader wonderwerke gedoen het deur vir die verskillende spanlede te voorsien. Die spanne het vertrek na Mosambiek, Switserland en ook 'n spannetjie wat in Suid-Afrika bly en hulle uitreik afskop in Port Elisabeth. Ander skole wat klaargemaak het hierdie teryn was die “Family Ministry School”, die “Introduction to Primary Healthcare” en soos altyd ook ons Engelse Skool.

Nie net het ons skole aangebied nie, maar ons het ook die voorreg gehad om verskeie uitreikspanne te huisves wat in en om Worcester uitreik gedoen het. Een van die groepe, “Heartbridge”- 'n drama en dans groep- kom al die pad van van Kona Hawaii af. Hulle het wonderlike geleenthede gehad om in skole, kerke en sommer ook net in die opelug optree in die maand wat hulle hier saam met ons was. Huidiglik is daar ook 'n spannetjie studente van Denver Colorado wat ons vir twee weke huisves terwyl hulle in die omgewing werk.

Op die huisfront het ons die vreugde gehad om Rozelle se 16de
verjaarsdag saam te vier. Haar tema was “Om die Wêreld”, en sy en haar maats het die aand heerlik saam geniet. Ons kon 'n hele paar verteenwoordigers betrek van verskillende lande hier op die basis en so het die jongmense dan by ses verskillende lande 'n ietsie ervaar van daardie kultuur - tot almal se genot.

Chané het haar graad drie klavier eksamen gespeel hierdie termyn en al die harde oefening was toe die moeite werd. Sy het eerste in haar klas ge-eindig. Wat dit bietjie anders gemaak het is dat dit haar tweede keer was wat sy hierdie jaar eksamen gespeel het. Haar juffrou het besluit dat sy reg was om twee grade hierdie jaar te doen.

Soos baie van julle reeds weet het ek en Mariska 'n uitdagende klompie maande agter die rug met die afsterwe van my pa sowel as Mariska se ma. Te midde van alles kan ons getuig dat ons Hemelse Vader genoeg genade gee vir elke dag. Arno se ma kuier huidiglik bietjie hier by ons. Baie dankie vir elkeen se gebede en bystand teenoor ons gedurende hierdie tyd.

Ons sien uit na die laaste deel van die jaar. Ons is opgewonde oor wat gebeur hier op die YWAM basis en wat die toekoms inhou. Ons weet dat dit jou gebede en bystand is wat dit help moontlik maak.

Baie liefdegroete
Arno en Mariska